TWEE SA-kampioene en AGT medaljes vir NHS op SA's!

TWEE SA-kampioene en AGT medaljes vir NHS op SA’s!

April 1, 2019
|

Om ‘n medalje by die nasionale kampioenskappe (SA’s) te verower, is die droom van enige hardwerkende atleet. Vanjaar het NHS se sterre veel meer vermag, toe twee as 2019-kampioene gekroon is, en ‘n prag-totaal van agt medaljes (twee goud, ses silwer) Laeveld toe gebring is! Die 2019 Skolekampioenskappe het die naweek van 21-23 Maart te Port Elizabeth plaasgevind, met ASA se nasionale byeenkoms vir Jeug (onder 18) en Juniors (onder 20), wat die daaropvolgende naweek (28-30 Maart) in die Paarl aangebied is.

Toe Gauteng-Noord se Markus Kotzé in PE die gewigstoot-titel (s.17) met ‘n reuse stoot van 19,70m ingepalm het, was Nellies se Douw Kruger (19,25m) amper ‘n halwe meter agter in die silwer-medalje posisie. Daar is sekerlik deur entoesiaste verwag dat Kotzé ook die Jeug-titel sou wen, maar NHS se Douw het ander planne gehad! Hy trek los met ‘n allemintige 19,99m, wat die Paarl-skare op hul voete gehad het. Kotzé was wel tweede, maar dié keer ‘n volle 1,05m agter Douw. Haal die hoed hoog af vir hierdie gr.11-leerling, ‘n man wat nie met hom laat mors nie – en wat ken van Nellie-‘guts’! Tans beklee Douw die nr.2-posisie op die wêreld-ranglys, met net Trinidad&Tobago se Jeron James (21,92m op 14 Maart, te Port of Spain) wat vanjaar al ‘n beter afstand kon haal. Goud by die komende Afrika-kampioenskappe in die Ivoorkus, is sekerlik nou in Douw se visier – baie sterkte!

Zander van der Merwe (s.17) is sekerlik atletiek se verrassingspakkie van die jaar! Hierdie toegewyde seun het sy persoonlike beste, deur die seisoen telkens van byeenkoms na byeenkoms verbeter. Toe hy eers deur die 60m-grens gebreek het, was daar geen keer aan Zander nie. Alhoewel hy vanjaar reeds spog met ‘n pb van oor die 69m, was ‘n ‘beskeie’ 65,50m goed genoeg om Zander in PE as die nuwe SA-spiesgooikampioen vir 17-jariges, te kroon. Gauteng se Ruan Human (64,26m) moes met silwer tervrede wees. Al kon Zander in die Paarl nie sy prestasie herhaal nie, kan hy heel trots voel op die 62,11m (vierde) wat hy aldaar gegooi het.

Dit bring ons by die silwerware, waarvan die Nellies ses eksemplare verower het. Bo-aan die lysie, moet die naam van gr.8-leerling Ashley Erasmus uitgesonder word. Om in die geselskap van jou ‘seniors’ (Ashley is vanjaar nog onder 14), tweede in gewigstoot vir meisies 15 te eindig, wil gedoen wees! Om die goue medalje met net EEN sentimeter te mis, is hartverskeurend! Ashley se 14,54m het haar vorige Nellie-rekord van 13,82m uit die rekordboeke gevee. Die wenner, Zonica Lindeque van Gauteng met 14,55m, het sekerlik ‘n sug van verligting geslaak toe die item afgehandel was.

Ashley se tweede silwer, was in skyfwerp, waar sy met 42,27m ook korte mette van haar rekord van 38,56m gemaak het.

Deur die seisoen, het Jaytee Boers konstant in die 800m (s.19) presteer. Daar is dan ook verwag dat hy ‘n goeie kans sou staan om die eindronde in die item op SA’s, te haal. Jaytee het egter getoon dat hy meer as dit kon doen, deur sy aan sy met T.Nwagu van Gauteng, wenpaal toe te beur. Uiteindelik slaag die Gautenger net-net daarin om in 1:51.71 (teenoor Jaytee se uitstekende 1:52.10) goud voor die Laevelder weg te raap en as skole-kampioen uit die stryd te tree. In die Paarl het Jaytee met ‘n  goeie 1:54.26 (derde in die uitdun) net-net nie vir die eindronde gekwalifiseer nie.

Die ongelooflike 1,75m wat Shanese de Clerck by die Laeveld-inter in hoogspring (m.14) gehaal het, is nog vars in die geheue. Konstante vertonings het daarop gedui dat sy ‘n krag by die nasionale byeenkoms kon wees – wat dan ook die geval was. Shanese (nog onder 14), het voortreflik presteer, al moes sy (soos Ashley) teen die onder 15’s meeding. Net Gauteng se Micaylee Botha (1,71m) kon Shanese (1,68m) van goud weerhou. Shanese se 1,75m bly egter steeds die beste hoogte vanjaar deur ‘n 14-jarige.

Lourens Potgieter (s.17) moes vanjaar teen uiters strawwe mededinging in die naellope aantree. Hy het vasgebyt en op Secunda sy plek in die Mpumalanga-span verseker. Al moes Lourens in die individuele items die knie buig, spog hy ook vandag met silwer, nadat hy lid was van die provinsiale span wat tweede in die wissel-aflos (verskillende afstande) geëindig het. Mpumalanga (1:58.74) is gevolg deur Vrystaat (1:59.74). Die wenners was Gauteng, met ‘n tyd van 1:52.95.

Al het hulle nie die rostrum gehaal nie, het verskeie ander atlete gewis nie hul provinsie in die steek gelaat nie. Deurgaans is blink vertonings gelewer.

SA-skole, Port Elizabeth
Rhodé Nel (m.17): 100m – 12.54 sek. (vierde in die semifinaal); ook 200m – 25.35 sek.
Lourens Potgieter (s.17): 100m – 11.31 sek.; ook 200m – 22.58 sek.
Marvin Mtethwa (s.19): 110m hekkies – 15.48 sek.
Hannes Botha (s.15): spiesgooi – 47,70m
Marco Capazorio (s.15): 100m hekkies – 14.46 sek.
Handré van der Merwe (s.5): 300m hekkies – 40.17 sek.
Anya Venter (m.15): skyfwerp – 32,74m (pb)
Douw Kruger (s.17): skyfwerp – 52,28m (vyfde in die finaal)

ASA Jeug en Junior Kampioenskappe, Paarl
Rhodé Nel (m.onder 18): 100m – 12.30 sek. (in semi-finaal)
Lourens Potgieter (s.onder 18): 100m – 11.22 sek.; ook 200m – 22.88 sek.
Douw Kruger (s.onder 18): skyfwerp – 51,82m (vyfde in finaal)

NHS is breëbors oor sy ster-atlete en hul uiters bekwame afrigters! Baie geluk ook aan mnr. DP Badenhorst, wat vir die soveelste keer, met SA-kampioene uit sy ‘worpe-fabriek’, kan spog.