Tuksreeks: Kwartfinaal lewer gesonde kompetisie

Tuksreeks: Kwartfinaal lewer gesonde kompetisie

Hoërskool Nelspruit het 24 en 25 Maart die Tuksskole-reeks Kwarteindronde aangebied. Skole wat deelgeneem het is hoërskole Nelspruit, Pietersburg, Eldoraigne, Monument, Florida, Klerksdorp en Hoër Tegniese Skool Middelburg. Die dag is moontlik gemaak deur AON. Vir NHS was die naweek se uitdagings effens strawwer as vorige rondes, maar ‘n goeie gees het nietemin geheers.

 

Die toernooi het Vrydag met seunshokkie op NHS se nuwe Astro-veld afgeskop en ten spyte van ‘n donderstorm het die middag glad verloop. NHS se eerste span het met ‘n oortuigende 8-1 gewen, die o/16’s kon ook daarin slaag om 2-0 te wen terwyl die 0/14’s bietjie opdraende gehad het en met een punt verloor het. Al drie hierdie wedstryde was teen Eldoraigne.

 

By die hokkiedogters Saterdag kon slegs die o/16A-span ‘n wen aanteken teen Eldoraigne. Die eerstes sowel as o/15A kon ook nie teen Pietersburg wen nie en die o/14A-span kon dan ook geen punte teen Monument aanteken nie.

 

Op die netbalbaan kon die o/16A’s wel ‘n wen teen Monument aanteken, maar die o/15A en o/14A-spanne het teen Eldoraigne gesneuwel.

 

Die eerste rugbyspan wat ook teen Eldoraigne te staan gekom het, het wel net-net met 26 teenoor 25 punte ‘n oorwinning behaal terwyl die Nellie o/16A-span teen dié skool verloor het. Die o/15A en o/14A-spanne het ook ‘n goeie stryd teen Monument gehad maar kon nie daarin slaag om ‘n wen aan te teken nie.

 

Hoërskool Nelspruit glo dat die byeenkoms vir elke sportman en -vrou ‘n onvergeetlike ervaring was en bedank elke afrigter en organiseerder wat hulle eie Godgegewe talent inspan om die leerders se koesterende drome ‘n werklikheid te maak. Dit is ‘n voorreg om hierdie viering van jonkwees, verbysterende talent en lewenslus, saam met die deelnemende skole te kan geniet.