Top 15-byeenkoms te UJ 'n triomf vir NHS se atletieksterre

Top 15-byeenkoms te UJ ‘n triomf vir NHS se atletieksterre

February 7, 2019
|

Die klein Gideonsbende atlete wat Hoërskool Nelspruit se atletiek-eer Woensdag 6 Februarie op UJ se pragtige atletiekbaan (Johannesburg) by Noordheuwel se jaarlikse Top 15-byeenkoms gaan verdedig het, het met ‘n hele rits persoonlike beste afstande en tye, hul kleim deeglik afgesteek.

Net toe dit wou lyk of Douw Kruger hierdie keer die meisies met ‘n beste ABSA-punt sou troef, het Ashley Erasmus (m.14) met ‘n blinknuwe Nellie-rekord van 39,19m in skyfwerp (eersteplek), die maksimum punt van 1200, haar eie gemaak. Douw moes diep delf om die aanslag van Gauteng se beste gewigstoters af te weer – en in die proses het hy die 5kg-gewig vir die eerste keer verder as 19m laat grondvat. Sy puik wenafstand van 19,04m (die beste sedert Frans Schutte se gloriedae) het ‘n pragtige 1124 tot die span se ABSA-totaal bygedra.

Benewens genoemde prestasies, was daar ‘n hele rits spoguitslae wat getoon het dat die Nellies moeilik by die komende Laeveld- en Super Interhoër, van die wennerspodium weggehou sal kan word. ‘n Samevatting van die beste vertonings:

Jaytee Boers (s.19): 800m – 1:53.56 (952 punte, eindig eerste)
Ruan Pretorius (s.14): hoogspring – 1,60m (865)
Philip Vogel (s.15): hoogspring – 1,65m (823); ook skyfwerp – 43,50m (834)
Douw Kruger (s.17): skyfwerp – 50,98m (896, tweede)
Zander vd Merwe (s.17): spiesgooi – 65,90m (951, eerste)
Henko de Nysschen (s.17): 400m – 50.96 sek. (839)
Larise Combrink (m.15): 100m – 13.05 sek. (841)
Shanese de Clerck (m.14): verspring – 5,31m (1010, eerste – nuwe Nellie-record); hoogspring – 1,60m (1011, eerste)
Rhodé Nel (m.16): 100m – 12.26 sek. (965, tweede); ook 200m – 25.45 (920, tweede)
Ashley Erasmus (m.14): gewigstoot – 13,71m (1033, eerste)
Shana Scott (m.16): gewigstoot – 11,92m (840); ook skyfwerp – 36,11m (836), nuwe Nellie-rekord.

Met ‘n ABSA-gemiddeld van 949 punte, het NHS ‘n goeie 8ste plek (daar was 23 deelnemende spanne) behaal. Dit het die Laevelders bo skole soos Montana, Overkruin, Kemptonpark, Lichtenburg, Transvalia , EG Jansen en Eldoraigne laat eindig.