Theo vir president!

Theo vir president!

October 16, 2017
|

Baie geluk aan Theo van der Westhuizen (gr.11) wat onlangs as president van die Nelson Mandela-kinderparlement aangewys is! 

Hoe word mens die president?

Elke provinsie het verskeie forums waarin die jeug betrokke kan raak. Hierdie forums word deur die regering daargestel en bestuur om kinders van Suid-Afrika by besluitneming wat die land se toekoms beïnvloed te betrek. 

Voorbeelde van sulke forums in Mpumalanga sluit die junior stadsraad, GBEM en die jeug NOP in. 15 afgevaardigdes word dan uit hierdie forums verkies om die provinsie se jeug by die jaarlikse Nelson Mandela Kinderparlement te verteenwoordig. 

Die provinsies word op die dag van die parlement eweredig opgedeel en in agt komissies versprei. Elke komissie het ‘n bepaalde kwessie om te bespreek. Theo se komissie het regeringskoördinasie en grondwetlike strukture spesifiek van toepassing op die kinders van SA ondersoek en bespreek.

Die afgevaardigdes van al nege provinsies het die dag voor die parlementêre sitting ‘n speaker, adjunk-speaker, president en ‘seargent-at-arms’ demokraties verkies. Uit ongeveer 130 afgevaardigdes is drie uit die vier posisies deur kinders van Mpumalanga gevul.

Tydens die parlementêre sitting het Theo sy rol as president vervul deur die agt komissies se terugvoer te ondersteun en af te sluit met ‘n presidentstoespraak. Hy het ook die offisiële verklaring, wat die veranderinge wat die jeug in SA wil sien insluit, aan die parlement voorgelees end it saam met die speaker namens die 18,6 miljoen kinders van SA onderteken.