Sêrriekompetisie

Sêrriekompetisie

January 4, 2016
|

Sêrriekompetisie

 

Die Laeveld interhoër week was nie net gekenmerk deur geesvang aande en harde werk op die atletiekbaan nie. Dit was ook ‘n week waar party gange van beide koshuise tydjies afgeknyp het om in die geheim die laaste poleerwerk aan ‘n sing en dans roetine te doen. Daar was ook gange wat agtergekom het dat om tot die laaste nippertjie te wag dalk ‘n goeie idee is vir wanneer jy die studieklok gehoorsaam, maar dat dit definitief nie werk wanneer jy drie beoordelaars moet beïndruk op ‘n verhoog voor bykans 500 koshuisgangers nie.

Ja, dit was die jaarlikse serrie kompetisie, trots en voortreflik aangebied deur die prefekte van HHD.

Die aand het flink afgeskop met Strelitzia se vertoning, en Huis Maré se skiewies het die kans met luide stemme aangegryp. Daarna het Huis Maré en Huis Hermann Davin se gange om die beurt die verhoog bestyg en die aand is afgesluit met ‘n stuitige ontbloting van die manne van Gate Toe. Alles natuurlik in die goeie gees van die aand.

Nadat die beoordelaars hulle somme gemaak het, is die senior dames van Vyfster as 2016 se wenners aangewys, met die amper senior dames van Miladys met ‘n kortkop in die tweede plek.

HHD se naam is hoog gehou deur die nog nat-agter-die-ore knape van Manana, wat mnr.Morne se hart laat warm klop het met hulle algehele derde plek. Hulle het natuurlik HHD se fondamente geskud deur die seuns afdeling te wen. Van die senior manne was glad nie so beïndruk met die wysheid dat harde arbeid soet vrugte lewer nie.

Huis Maré, wees gewaarsku. Volgende jaar gaan die HHD manne so bietjie vroeër begin werk aan hulle melodieë en danspassies. Daardie trofee moet terugkom huistoe.