SA-ATLETIEK:

SA-ATLETIEK:

April 13, 2016
|
WERNER 'N SA- KAMPIOEN VIR 'N TWEEDE KEER

Werner Bouwer

Werner Bouwer is SA-kampioen, vir die tweede keer ! Die jaarlikse nasionale skole-kampioenskappe wat vanjaar op 17-19 Maart in Bloemfontein aangebied is, het weer bewys dat NHS se top-atlete, met die bestes in die land kan saamgesels. Benewens twee podiumplekke (goud en silwer), het die Nellies met skitterblink vertonings gesorg dat daar ook op nasionale vlak, deeglik van hulle prestasies kennis geneem is. Werner Bouwer (s.19) se konstante vertonings deur die seisoen, is bekroon toe hy met 'n praggooi van 67,30m die goue medalje voor verlede jaar se kampioen, Hernu van Vuuren (Vrystaat, H/S Voortrekker) weggeraap het. Hernu het self met 'n 66,36m geskitter, maar dit was nie genoeg om die Laevelder te troef nie. Hiermee het Werner dan ook vir die tweede keer die medalje as SA-kampioen om sy nek kon hang, omdat hy ook in 2013 (toe hy onder 15 was) die nasionale wenner was. Hierdie twee manne sal mekaar ook by die ASA-kampioenskappe pak - voorwaar iets om na uit te sien !

Naas Marais se volgehoue, getroue en harde werk--etiek, het soete vrugte gelewer, toe hy 'n gesogte silwermedalje in skyfwerp (s.17) verower het. Naas se afstand van 53,93m is sy naasbeste (hy het vanjaar reeds 55m gehaal). Henco Pieters (ook s,17) is duidelik 'n man vir die groot oomblik ! Nadat hy die hele seisoen in die omgewing van 47m geboer het, het hy (ook in skyfwerp) waar dit werklik saakgemaak het, met 'n yslike 50,83m losgetrek en 'n baie goeie 5e plek behaal. Daar moet gewis ook van Jessica Berry melding gemaak word. Jessica (m.15) het vanjaar uitstekend presteer en die 1500m by 'n hele paar geleenthede onder 5min. voltooi. Lubina Schutte het reeds in 1989 die Nellie-rekord van 4:51.00 opgestel, 'n tyd wat ook in 2011 deur die bekende Madri Wiid aangeteken is. Al kon sy slegs 8ste in die finaal eindig, het Jessica nietemin die Nellie-rekord aan flarde gehardloop toe sy die wedloop in 'n uitstekende 4:49.08 voltooi het.

Ander goeie vertonings wat deur Nellies gelewer is, sluit in: Naas Marais (s.17): gewigstoot - 16,01m Chyle van Zyl (s.15): spiesgooi - 55,65m Leon Pienaar (s.19): 400m - 49.12 sek., ook 800m - 1:57.71 Megan Nel (m.15): verspring - 4,94m Nicola Cronje (m.15): 800m - 2:19.27 Ilke Joubert (m.17): gewigstoot - 12,55m, ook spiesgooi - 33,01m Marne van Aarde (m.17): gewigstoot - 12,23m (sy is nog onder 16) De Villiers Basson (s.17): 800m - 1:58.19 Mia Erasmus (m.17): 1500m - 5:10.80