SA ATLETIEK

SA ATLETIEK

April 13, 2016
|
Tweede SA-kampioen vir NHS - binne twee weke !

Naas Marais, Leon Pienaar, Werner Bouwer, Ilke Joubert.

Nadat Werner Bouwer die goue medalje vir spiesgooi (s.19) in Bloemfontein (SA-skole) verower het, het NHS se provinsiale atlete Donderdag 31 Maart in Germiston aangemeld, waar die ASA Nasionale kampioenskappe vir subjeug- (onder16), jeug- (onder 18) en junior-atlete (onder 20) plaasgevind het. In Bloemfontein het Naas Marais (s.17) silwer in skyfwerp gewen (53,93m), maar hierdie keer het hy die stang behoorlik vasgebyt en met 'n uitstekende afstand van 56,59m, daarvoor gesorg dat Nellies met sy tweede SA-atletiekkampioen vir 2016, kan spog ! Die ander medaljes is verower deur Franco Vermeulen van die Boland (silwer, 55,87m) en Morne Brandon van Sentraal-Gauteng (brons, 54,78m). Naas se vorige beste afstand, was 55,75m, waarmee hy op Barberton, sy kleim as Ehlanzeni se nr.1 afgesteek het. Om egter by die nasionale kampioenskappe, waar dit regtig saak maak, jou persoonlike beste te behaal, is enige atleet se droom - en Naas en sy afrigter (mnr. DP Badenhorst) verdien werklik 'n pluimpie dat hulle Naas se vordering so presies beplan het. Werner Bouwer het in Bloemfontein met die beste skole-atlete afgereken, maar moes in Germiston ook teen studente (wat ook onder 20 is) deelneem. Sy beste gooi van 65,69m was net-net nie ver genoeg vir 'n bronsmedalje nie, en hy moes met die 4e plek tevrede wees. In die spiesgooi vir seuns 18 (jeug), het die 16-jarige Stefan Smit (hy kan volgende jaar nog in dieselfde ouderdomsgroep deelneem) ook baie goed gevaar, deur met 63,47m ook in die 4de posisie te eindig.
Dit bring ons by Ilke Joubert, wat vanjaar by die Laeveld-byeenkoms op Lydenburg, tweede viool na die gasheerskool se Annerie du Toit, moes speel. Laasgenoemde kon nie onder die top 12 in die uitdunronde in Germiston klaarmaak nie, en het dus nie vir die finaal gekwalifiseer nie. Ilke het ander planne gehad ! Monique Rautenbach het in 2012 die Nellie-rekord van 13,14m opgestel - 'n prestasie wat destyds aan haar die trofee vir dogtersatleet van die jaar, besorg het. In die uitdunne, verbeter Ilke die rekord na 13,26m, wat haar 'n plek in die eindronde verseker het. Met agtereenvolgende stote, oortref Ilke haar persoonlike beste, met 'n poging van 13,45m, toe 13,74m - en daarna 'n uitstekende 13,76m ! Die feit dat hierdie pragtige afstand net goed genoeg vir 'n 5e plek was, illustreer die standaard wat by so 'n kampioenskappe aangedurf moet word. Leon Piennaar het vir sy deelnaem in die 4 x 400m aflosspan ‘n bronsmedal ingepalm. Daar was ook ander goeie vertonings deur van die ander Nellies wat ook in Germiston, in aksie was, onder meer die volgende: Leon Pienaar (jeug): 400m - 49.15 sek Chyle van Zyl (sub-jeug): gewigstoot - 15,58m, ook spiesgooi - 52,57m, en skyfwerp - 49,32m Nicola Cronje (sub-jeug): 800m - 2:26.47 Tertius Mentz (jeug): 800m - 2:01.00 (Tertius is volgende jaar steeds in hierdie groep) Joshua Maass (jeug): spiesgooi - 58,86m (ook nog jeug in 2017) Die suksesse wat NHS se atlete by vanjaarlle twee nasionale byeenkomste behaal het, kan (benewens die puik gehalte afrigting wat hulle ontvang het) ook daaraan toegeskryf word dat die Nellies deur die jaar, die geleenthede gebied word om teen die bestes mee te ding. Aan die einde van nog 'n heerlike, prestasie-belaaide atletiekseisoen, wens ons al die atlete en hul afrigters, van harte geluk - dit was voorwaar 'n seisoen om te onthou!