Rugby is sy passie

Rugby is sy passie

August 13, 2019
|

Craven Week bly maar een van die grootste toernooie op die skolerugby-kalender. Die o/18-week is weer vir die eerste keer sedert 2005 in Bloemfontein by Grey Kollege aangebied. NHS se twee graad 12 leerders, Chyle van Zyl (kaptein) en Neil Henning, het die Phakisa Pumas verteenwoordig. Mnr. Chris Mans, een van die skool se onderwysers, is ook die span se afrigter.

Mnr. Mans se passie vir rugby het reeds begin toe hy op skool was. Hy het self rugby gespeel en het al in graad 10 vir die eerstespan gespeel. “My eerstespan afrigter, mnr. Koos van Staden, wat Transvaal Skole Craven Week afgerig het, het my ingeroep en die saadjie by my gesaai om onderwys te gaan studeer, rugby af te rig en dan as ek eendag die geleentheid kry, provinsiaal af te rig.”

In 2002 het hy die geleentheid gekry om die o/18 Puma Akademiespan af te rig, drie jaar later die o/18 Craven Weekspan en in 2014 en 2015 die o/16 Grant Khomo-span. “Craven Week 2006 was baie besonders. Dit was my eerste jaar en ons het die WP in die hoofwedstryd 25-19 gewen. Dis ‘n ervaring wat as ‘n klein provinsie nie sommer beleef word nie.”

Hierdie jaar was die Phakisa Pumas se doelwit om 2 van die 3 wedstryde te wen. Hulle het egter net een gewen, maar die rugby wat die seuns gespeel het, was hard en aanskoulik. Die hoogtepunt van die toernooi vir hom was die wedstryd teen die Luiperds waar hulle 54-22 gewen het.


“Om te oefen in ons provinsie is nie maklik nie, maar ons het dit reggekry om gereeld met die elite groep te oefen in die verskillende streke, om sodoende ‘n basiese plan aan mekaar te sit van hoe ons wil speel.
Ons het twee opwarmingswedstryde gehad teen die Valke. Ons het die eerste wedstryd 52-45 gewen in Springs en ook die tweede wedstryd 50-22 gewen tydens die bondedag by Bekker Landbouskool.”
Meneer Mans reken dat daar nou baie harde werk voorlê vir die volgende o/18 Puma-span.
“ Basiese vaardighede, krag en fiksheid kan verbeter word. Daar is 125 seuns wat van die Grant Khomo tot by die Craven Week-span weer die geleentheid kan hê om volgende jaar in die Puma-spanne te speel. 10 van die seuns in die Craven Weekspan was hierdie jaar O/17, so die ervaring is reeds daar vir vogende jaar, die manne moet net hard werk.”

Vir hom het sy grootste droom waar geword in 2014 toe hy Hoërskool Nelspruit se eerste span saam met mnr. Gerhard Holtzhauzen afgerig het en die gesogte Beeld trofee gewen het. Die ander hoogtepunt is sy rugbyloopbaan was in 2001 toe sy o/14A-span van HTS Middelburg die Nu-Power Tuksreeks gewen het.
Wat lê nou voor vir die bekwame afrigter? “Ons almal se paadjies is maar vir ons uitgewerk en ek glo God het nog baie planne vir my as afrigter! Net sodra jy dink dit kan nie beter nie, tree Hy in en gee jou meer as wat jy verwag!”