Ontmoet NHS se nuwe tennisspesialis

Ontmoet NHS se nuwe tennisspesialis

June 21, 2017
|

“Daar is geen kortpaaie nie. Moenie wens nie, werk!” So sê Petrus Koekemoer, Hoërskool Nelspruit se nuwe tennisafrigter en tennis-sportspesialis by wie karakter en dissipline hoog op prys gestel word.

Of dit jou droom is om vir die skool of ‘n klub te speel en of jou drome so groot is dat dit ander bang maak, is Petrus moontlik die afrigter vir jou. Hy glo daarin om ‘n sterk fondasie uit basiese tegnieke te lê en dit te bemeester. In sy program word daar op verskeie aspekte van die sport gefokus. “Die pad wat ‘n tennisspeler stap om by sy eindpunt aan te kom is lank en moeilik, en daarom is dit belangrik om met die einddoel in gedagte, te begin”.

Een van Petrus se spelers by wie hy die laaste twee jaar betrokke was, is Victor Lilov van die VSA wat verlede Desember die Orange Bowl, een van die grootste junior tennistoernooie in die wêreld, gewen het. Hy het ook die laaste ses maande in die VSA saam met sy mentor Steve Smith afgerig. Plaaslik het hy ook al verskeie spelers opgelewer wat vandag self afrig en goeie prestasies behaal het.

Petrus kom oorspronklik van die Ooskaap af en sy afgrigtingsloopbaan het toe hy 17 was momentum gekry. Hy het saam met Esmé Kruger wat destyds ook teen Monica Seles kragte gemeet het, as ‘n assistant-afrigter begin.

Hy het intussen ‘n groot liefde vir die sport ontwikkel en sien homself nog steeds as ‘n “student” van die sport. “Ek leer nog elke dag,” sê hy. “Die tenniswêreld bied so baie vir mense met ‘n passie en dit is vir my belangrik om elke speler te lei en te ontwikkel om die beste te word wat hulle moontlik kan wees.”
Petrus se uitgangshoek is dat daar nie ‘n regte of verkeerde manier is om ‘n bal te slaan nie, maar liewers ‘n effektiewe of oneffektiewe manier, wat beteken die minste beweging en die minste spierinspanning – bekend as die ekonomie van beweging.

“Tennis is die beste ‘eerste’ sport vir ‘n kind,” meen Petrus. Hy verwys na vorige kampioene in ander sportsoorte wat moeilike keuses moes maak tussen tennis en hul onderskeie sportsoorte bv. Ernie Els, Herchelle Gibbs en AB de Villiers. “Hulle het almal eers baie goeie tennis gespeel voor hulle in ander sport presteer het. Ons leer elke speler dat ‘n balans baie belangrik is – college tennis is the goal and pro tennis is the dream. Dit is belangrik om eers ‘n student en dan ‘n atleet te word.”

Hoewel Petrus tot sy spyt nie self junior tennis gespeel het nie en krieket gespeel het, volg hy tennis al van ‘n jong ouderdom af. Hy is getroud met Christelle en hulle het self twee kinders onderskeidelik in gr. 3 en gr. R.

Enige een wat meer oor tennis wil leer en ‘n pad saam met Petrus wil stap is welkom om hom te kontak by 060-971-9289 of epos hom by petrus@pktennisacademy.co.za. Besoek ook www.greatbasetennis.com of soek vir “GreatBaseTennis” op Facebook.