NHS verwelkom Puma-kaptein as rugby-afrigter

NHS verwelkom Puma-kaptein as rugby-afrigter

November 7, 2018
|

“Dankbaarheid vir jou Godgegewe talente.” Dít is hoe die Puma-rugbykaptein Hennie Skorbinski sy rugbyloopbaan en nuwe uitdaging as afrigter by Hoërskool Nelspruit (NHS) sy benadering tot die sport opsom.

‘n Nuwe seisoen sal in 2019 vir Hennie en NHS aanbreek wanneer hy die plek van voormalige Puma-spanmaat Corné Steenkamp as rugbyafrigter by die skool in neem. Corné keer na bykans drie jaar by die skool terug na die Pumas – dié keer as afrigter.

NHS is opgewonde om vir Hennie in die Nellie-familie te verwelkom  en glo dat hy nie net ‘n verskil op die rugbyveld gaan maak nie, maar ook ‘n positiewe rolmodel vir leerders sal wees.

 

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe bevoorreg ek voel om deel te kan word van die Nellies nie. Dit is ‘n ongelooflike skool met baie potensiaal. Ek deel asbsoluut in die skool se kultuur, waardes en fokus op familie. Ek sien baie daarna uit om my rugbykennis te deel, maar ook om self verder as mens te groei. ‘n Mens is nooit te oud om te leer nie,” sê Hennie. Sy motto is “om ‘n goeie mens te wees kom eerste, en rugby-speel tweede – om dankie te sê vir jou Godgegewe talente.”

 

Hennie se loopbaan as rugbyspeler het op skool reeds aan die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth afgeskop toe hy in graad 11 ‘n kontrak by die Luiperds sowel as ‘n beurs by die Noordwes-Universiteit losgespeel het. Hier het hy die geleentheid gehad om rugby professioneel op te neem. Hoewel hy baie dankbaar is vir die geleenthede wat hy hier gekry het, meen hy sy grootste teleurstelling is die feit dat hy nie sy studies op daardie stadium voltooi het nie. “Die realiteit as sportman is dat dit belangrik is om ‘n ‘plan B’ gereed te hê,” sê Hennie.

Hy was baie opgewonde om ‘n Laevelder te word nadat hy in 2013 teen die Pumas  gespeel het, en Jimmy Stonehouse hom genader het om by sy span aan te sluit. Hennie het sopas sy vierde seisoen hier voltooi, meestal as senter en het in  2016 die span as onderkaptein en in 2017 en 2018 as kaptein gelei.  “En wow, wat ‘n voorreg was dit nie! Ek is verseker geseënd om deel te kon wees van die ongelooflike Pumas-familie,” sê hy. ‘n Hoogtepunt uit Hennie se loopbaan is toe hy die jaar as kaptein die Supersport Challenge-beker kon lig na ‘n wen in die finaal.

 

Rugby is egter nie sy enigste belangstelling nie en tokkel Hennie graag die kitaar en beoefen hy ander sporte soos krieket saam met sy twee seuns Charlie (6) en Werner (7) in sy vrye tyd. “Soms vang ons onsself ook bietjie sokker speel,” lag hy. Sy sportheld bly egter rugbyspeler Brian O-Driscol. “Hy is ‘n uitstekende voorbeeld as speler en kaptein, en het ongelooflike talent, hoewel hy baie hard gewerk het om te kom waar hy is.”

 

Hennie se twee wenke vir jongmanne wat rugby professioneel wil aanpak:

 

  • Dit is harde werk en verg baie dissipline en toewyding.
  • Sorg dat jy jou identiteit in God vestig en nie in die sport self nie.  Sodoende weet jy wie jy is as jy die dag klaarmaak, want rugby moet nooit wees wie jy is nie. Volg jou hard na, gee alles, maar weet wie jy is in God

 

Hennie beklemtoon graag hoe belangrik sportdeelname is en dat ouers die verantwoordelikheid het om kinders toe te rus vir die toekoms. “Rugby het my as individu so baie van die lewe geleer en my gevorm in die man wat ek vandag is. Maak sport deel van jou kultuur en gebruik dit as ‘n middel om ons skool en land op te bou,” sê hy.