NHS-sewesseisoen lewer drie provinsiale spelers

NHS-sewesseisoen lewer drie provinsiale spelers

September 13, 2018
|

Hoërskool Nelspruit se Blitz Rhinos en Baby Blitz Rhinos het ‘n kort maar suksesvolle sewesseisoen afgesluit met ‘n hele paar eerste, tweede en derde plekke op hul 2018 kerfstok. 

Die seisoen het 18 Augustus met die Lowveld High-sewestoernooi afgeskop waartydens die Blitz Rhinos toernooiwenners was en die Baby Blitz Rhinos naaswenners was. Dit is gevol deur ‘n toernooi by HTS Witbank op 25 Augustus. Hier het beide die Blitz Rhinos en Baby Blitz Rhinos as naaswenners huis toe gekom. By die Mpumalanga Kampioenskappe op 1 September het die Blitz Rhinos derde geëindig met die Baby Blitz-span in vierdie plek. Die seisoen het op 8 September tot ‘n einde gekom met die Barberton-sewestoernooi waar die Blitz Rhinos naaswenners was en die Baby Blitz-span derde geëindig het. 

Die Craven-week en provinsiale wedstryde lê nou voor. NHS se Janrico Vermeulen, Franco van Rooyen en Chyle van Zyl het vroeër die week aan die finale proewe vir die Mpumalanga-sewesspan deelgeneem. Chyle, Janrico en Franco is in die span opgeneem.

Volgens die skool se rugby-organiseerder, Gerhard Holtzhausen neem die skool graag deel aan die sewes na afloop van die rugbyseisoen. “Dit ontwikkel die spelers se vaardigheide en die spelers put baie genot uit die sewes. Ons kan duidelik sien hoe die seuns se vaardighede verbeter en dit is ook n goeie oorskou van spelers vir die 2019 seisoen,” sê hy.

Foto’s: Hennie Homann