NHS se top-atlete skitter op UJ-baan

NHS se top-atlete skitter op UJ-baan

February 9, 2017
|

Die jaarlikse Noordheuwel Top 15-byeenkoms is vanjaar op Woensdag 8 Februarie, op die pragtige blou, sintetiese baan van die Universiteit van Johannesburg aangebied – en watter puik vertonings het dit nie opgelewer nie! NHS se Gideonsbende van 15 het Nelspruit en die Laeveld se eer met onderskeiding gedra en die geleentheid deeglik benut om ‘n paar persoonlike bestes en prag-afstande en -tye daar te stel.

 

Jacques Marais (s.15) het weer eens bewys dat hy ‘n meer as waardige opvolger vir ystermanne soos Frans Schutte, Marnus vd Merwe en ouboet Naas is, toe hy die 1kg-skyf op ‘n allemintige 56,70m laat grondvat het! Dit oortref sy vorige beste afstand met meer as 5m en verdien die maksimum van 1200 punte op die ABSA-tabel. Dit was voorwaar die dag van veral die skyfwerp-atlete, met Stefan Smit (s.17 – 51,17m) en Douw Kruger (s.15- 46,21m) wat self elk ‘n puik 900 punte losgegooi het. Ook Wian Otto (s.17 – 44,78m) en Shana Scott (m.14 – 28,05m) was op hulle stukke.

 

De Villiers Basson (s.19) verbeter ook feitlik met elke byeenkoms. Hy het sy beste tyd in die 800m na ‘n uitstekende 1:55.25 (918 punte) opgeskuif en gewys dat hy gewis ‘n man vir die groot oomblik is! Sy 400m-tyd van 50.84 sek. spel ook gevaar vir die ander atlete by die komende interhoër.

 

NHS se welbekende worpe-krag, is ook met reuse afstande in gewigstoot , beklemtoon. Douw Kruger (s.15) het vanjaar deur die 16m-grens gebars en spog na dese met ‘n beste afstand van 16,21m – ‘n volle 978 ABSA-punte werd. Wian Otto (s.17) se 16,24m met die 5kg-ysterbal, het aan hom ‘n goeie 894 punte besorg. Ander gewigstoters wat ruim tot die skool se punte-totaal bygedra het, is Christine Kruger (m.15 – 12,08m vir 877 punte); Jacques Marais (s.15 – 14,92m vir 877 punte) en Marné van Aarde (m.17 – 11,90m wat 803 punte bygevoeg het).

 

Twee hekkiesatlete wat met grasie in hul pa’s se voetspore nael, is Devon Nell (s.16) en Van Reenen Kruger (s.14). Devon se pa, mnr. Rian Nell, was ‘n dekade of vier gelede (hy was op Barberton) een van die Laeveld se beste atlete in die kort-hekkies, terwyl Van Reenen se pa, mnr. Gerrie Kruger, as Lydenburger die hekkieswedlope in die vroeë 1980’s oorheers het. Devon het Woensdag sy interhoër-kleim met baie goeie tye van 15.26 sek. (110m hekkies) en 55.89 sek. (400m hekkies) afgesteek. Hiermee het hy onderskeidelik 843 en 881 punte vir sy span verdien. Sy tyd in die langer hekkies, was slegs 0.07 sek. Stadiger as Ruan Labuschagné se Nellie-rekord van 55.81 sek. Van Reenen het met spogtye van 14.59 sek. (100m hekkies) en 41.83 sek. (300m hekkies) die oog gevang. Sy punte-bydrae was 896 en 865.

 

Jessica Berry was in die onder 16-afdeling ook vir blink vertonings verantwoordelik. Sy voltooi die 800m in 2:20.73 (878) en die 1500m in ‘n ewe goeie 5:01.07 .  Linmari Potgieter (m.17) het nog ‘n 1,60m in die hoogspring (865 punte), by haar versameling puik spronge gevoeg en lyk onderweg te wees om Thelma van Rensburg se 2000-rekord van 1,65m (m.19) volgende jaar skrik te maak.

 

Ander goeie uitslae sluit in:

 

Lourens Potgieter (s.15): 200m – 23.51 sek. (872) en 100m – 11.99 sek. (800)

Stefan Smit (s.17): spiesgooi – 57,19m

Nicolize Auacamp (m.14): 200m – 27.56 sek. (818) en 100m – 13.63 sek.

Anke Enegelbrecht (m.19): verspring – 5,14m

Marné van Aarde (m.17): spiesgooi – 35,33m

 

Vrydag se groot Randburg-byeenkoms, bied dan die laaste geleentheid vir atlete om hul deelname aan vanjaar se interhoër op Barberton, te bevestig. Sterkte aan ons uithaler-atlete en hul afrigters !