NHS se Rainer Spruyt is SA se naasbeste in tienkamp!

NHS se Rainer Spruyt is SA se naasbeste in tienkamp!

April 25, 2017
|

Die program van die SA senior-atletiekkampioenskappe wat die afgelope naweek (21/22 April) op Potchefstroom aangebied is, het terselfdertyd ook voorsiening gemaak vir ons land se top-veelkampatlete (junior en senior) om hul veelsydigheid op ‘n nasionale byeenkoms, te bewys. Nellies se Rainer Spruyt het hom vanjaar vir die afdeling vir seuns 18 (Jeug) ingeskryf – en spog vandag met ‘n pragtige silwermedalje!

Rainer Spruyt.

 

Rainer, ‘n kranige middelafstand-atleet in eie reg, ken van veelsydigheid. Hy was in 2016 die kaptein van die skool se onder 16B-rugbyspan wat die provinsiale titel ingepalm het, en het Mpumalanga ook in landloop verteenwoordig. Vanjaar het hy sy kant in atletiek gebring, maar besluit om hard te oefen en te kyk of hy nie dalk goed in tienkamp sou vaar nie. Dit was voorwaar ‘n wyse besluit! Die tien items is oor die twee dae van kompetisie, versprei. Die laaste item (1500m) is die mees uitmergelende van almal – maar dis net hier waar Rainer die punte opgestapel het en gemaklik in ‘n goeie 4:41.80 die hakskene vir sy opponente gewys het.

 

Uiteindelik het Vrystaat se Zaine de la Rey (5741 punte) met die louere weggestap, met Rainer (5376) wat net-net voor Boland se Ronaldo MacKenzie (5332) ingeskuif en sodoende tweede geëindig het. Rainer het, benewens die 1500m, ook die 400m (53.34 sek.) gewen, en was tweede in gewigstoot (11,32m). Sy ander items (met sy vertonings) was soos volg: 100m (11.85 sek.), 110m hekkies (16.91 sek.), skyfwerp (32,12m), spiesgooi (38,20m), hoogspring (1,61m), verspring (5,38m) en paalspring (2,80m). Laasgenoemde moes vinnig onder die knie gekry word, want die skole-byeenkomste maak nie vir paalspring voorsiening nie. Welgedaan, Rainer – ons is baie trots op jou!

 

Twee van Nellies se ander staatmakers, Naas Marais en Nerina Visser, het ook die senior SA’s (as lede van Mpumalanga se senior-span) bygewoon. Naas, wat die eerste keer met die heel groot 2kg-skyf moes gooi, kan baie tevrede met sy mooi afstand van 46,92m wees. Dit het aan hom ‘n 5e plek besorg. Nerina (64.78 sek. in die 400m hekkies) het ook haar provinsie met eer verteenwoordig.

Nerina Visser en Naas Marais.