NHS pak vir Klerksdorp aan in Tuks tweede ronde

NHS pak vir Klerksdorp aan in Tuks tweede ronde

Hoërskool Nelspruit se rugby-, netbal- en hokkiespanne het die naweek teen Hoërskool Klerksdorp te staan gekom in die tweede ronde van die Tuks-Skolereeks, wat in Klerksdorp gespeel is.

Ronde 1 teen Hoër Tegniese Skool Middelburg is vroeër verlede week tuis afgehandel (Dinsdag 7 Maart).

NHS het egter Saterdag uithalervertonings gelewer met die rugbyspanne wat sewe uit nege wedstryde gewen het, die netbal het sewe uit 10, dogtershokkie vyf uit sewe en seunshokkiespanne beide hulle wedstryde.

Veral die rugby eerstes, tweedes en derdes het beïndruk met hul wen-puntetellings van onderskeidelik 49-14, 44-0 en 33-7. Die B-spanne het ook almal beïndruk met hul spel ten spyte van die feit dat baie topspelers nie die naweek gespeel het nie, maar aan atletiek deelgeneem het.

Die Nellies-netbalspanne kon in sewe wedstryde oorwinnings behaal met veral die jonger spanne wat hulself dié ronde bewys het. Hoewel die eerstes verloor het, het hulle hard gespeel en uiteindellik met ‘n telling van 26-30 geëindig.

Die o/16A hokkiedogters het uitgestaan met ‘n 6-0 oorwinning terwyl die o/15A-, o/14A en o/14B-spanne ook elk oortuigend as oorwinnaars uitgetree het.

By die seunshokkie was NHS se twee spanne die enigstes om punte aan te teken – en baie van hulle! Die eerstes en o/16A-spanne het onderskeidelik met 11-0 en 10-0 gewen.

Die Tuks-skolereeks se kwarteindronde vind 24 en 25 Maart by NHS plaas.