NHS gee toon aan in geil atletiekjaar vir die Laeveld!

NHS gee toon aan in geil atletiekjaar vir die Laeveld!

April 18, 2017
|

Die afgelope vakansie se twee nasionale atletiekbyeenkomste (SA Skole en ASA Jeug en Juniors) wat onderskeidelik in Durban en Kaapstad plaasgevind het, sal gewis om verskeie redes onthou word. Die Laeveld se skole het vanjaar die medaljes ingeryg, deurdat ook Lydenburg, Lowveld High, Rob Ferreira, Barberton en Bergvlam, by NHS as medaljewenners aangesluit het. Hiermee is duidelik gewys dat Mpumalanga se atletiekkrag, grotendeels Laeveld toe verskuif het – ‘n groot pluimpie vir die plaaslike afrigters en talentvolle atlete!

Joshua Maass, Naas Marais en Nerina Visser het medaljes by die SA Skole Kampioenskappe gewen.

 

Maar, soos NHS se banier by Februarie se interhoër op Barberton aangedui het: Nellies kén van sterre! Om by beide die land se grootste en belangrikste byeenkomste, as wenner gekroon te word, is ‘n prestasie wat min atlete ooit kon vermag het. Dit is presies wat NHS se Nerina Visser (400m hekkies) en Joshua Maass (spiesgooi) reggekry het! In Durban (SA Skole) het Nerina (meisies 19) haar uitdun in 62.74 sek. gewen, en toe ‘n titaniese stryd in die eindronde teen Mpumalanga se Gretl Rens gevoer. Met brute Nellie-guts het Nerina egter vorentoe gebeur om in ‘n uitstekende 62.02 sek. die goue medalje te verseker. Gretl se 62.48 sek. in die tweedeplek, wys hoe straf die wedloop verloop het. In Kaapstad (ASA Juniors) het Nerina weer eens eerste in haar uitdun (63.08 sek.) geëindig, maar hierdie keer was dit Vrystaat se Ané Erasmus wat Nerina om die boonste trappie van die rostrum uitgedaag het. Soos die beeldsending op TV gewys het, was dit egter weer Nellies se Nerina Visser wat die stang vasgebyt en enduit haar ritme behou het. Haar wentyd van 61.76 sek. (teenoor Ané se 61.84 sek.) is ‘n persoonlike beste en het voorwaar die kroon op ‘n luisterryke skole-atletiekloopbaan gespan.

Joshua Maass, Nerina Visser en Tertius Mentz het medaljes by die ASA’s gewen.

Joshua Maass moes in Durban ‘n kwaai aanslag van nog ‘n Vrystater, Johannes Schlebush, afweer. Dit het uiteindelik ‘n nuwe Nellie-rekord van 73,66m (Stephan vd Bank se ou rekord was 69,61m) gekos om die SA Skole-titel agter sy naam te kon skryf. Schlebush (73,38m) het, nes Joshua, vir die Wêreld-onder 18-kampioenskappe (later vanjaar in Nairobi) gekwalifiseer. In Kaapstad was Joshua egter in ‘n klas van sy eie. Hy was die enigste deelnemer (seuns 18) wat verder as 70m kon gooi. Toe hy eerste in die uitdunne eindig (68,73m), was die skrif reeds vir die ander aan die muur. In die finaal het Joshua met ‘n stewige 71,15m losgetrek, wat een te veel vir sy teenstanders was.

Benewens bogenoemde vier goue medaljes, spog NHS verder met nog twee podiumplekke. Naas Marais het in Durban ‘n tweekuns behaal, toe hy silwer in gewigstoot (seuns 19 – 17,54m) en brons in skyfwerp (53,11m) verwerf het. Met sy skyfwerpafstand het hierdie staatmaker oor vele jare, Marnus vd Merwe se Nellie-rekord (52,68m) uit die boeke gevee. In Kaapstad het Naas, al het hy vierde geëindig, sy nuwe rekord na 53,84m gerek – ‘n uitstekende vertoning!

Baie geluk ook aan die ander NHS-atlete wat die bestes in die RSA die stryd aangesê het, en baie goeie rekenskap van hulself gegee het! ‘n Paar van die ander hoogtepunte:

Durban, SA-skole

Wian Otto (s.17): gewigstoot – 15,40m (7e in finaal)
Xander Ruherford (s.15): skyfwerp – 51,63m (8e in finaal)
Stefan Smit (s.17): spiesgooi – 64,44m (4e in finaal); ook skyfwerp – 47,77m (7e)
Henco Pieters (s.19): skyfwerp – 47,88m (8e)
Douw Kruger (s.15): gewigstoot – 15,40m (10e)
Ruan Labuschagné (s.17): 400m hekkies – 55.45 sek. (6e)
Nicola Cronjé (m.17): 800m – 2:17.95 (4e in uitdun, nuwe Nellie-rekord) *nog onder 16
Marné van Aarde (m.17): spiesgooi – 37,73m (8e)

Kaapstad, ASA Jeug en Juniors
Wian Otto (s.18): gewigstoot – 15,57m (6e)
Naas Marais (s.20): gewigstoot – 16,95m (5e)
Stefan Smit (s.18): skyfwerp – 49,47m (5e); ook spiesgooi – 58,00m (10e)
Tertius Mentz (s.18): 800m – 1:57.16
Ruan Labuschagné (s.18): 400m hekkies – 55.73 sek.
Jessica Berry (m.18): 1500m – 4:56.33 (11e) *nog onder 16
Christine Kruger (m.18): gewigstoot – 10,82m *nog onder 15

Baie dankie aan al ons spog-atlete en hul begeesterde afrigters, wat die 2017-atletiekseisoen, ‘n onvergeetlike skouspel gemaak het! Vanaf die interhuis-byeenkoms in Januarie, tot die SA’s in Maart/April, het NHS se atlete hul skool, streek en provinsie, met onderskeiding verteenwoordig. Welgedaan!