NHS debatspan presteer by Agenda se Debat Interhoër

NHS debatspan presteer by Agenda se Debat Interhoër

April 11, 2019
|

Hoërskool Nelpruit se Jana Ingwersen, Ernst Pieterse, Milda van Dyk en Danté van der Westhuizen het op Saterdag 6 April ‘n hond uit ‘n bos gepraat tydens Agenda (Afrikaanse Gemeenskaps- en Debataksie) se Debat Interhoër wat gehou is by Helpmekaar Kollege in Johannesburg. Die kompetisie is ‘n uitnodigingskompetisie aan die top 8 debatskole in die noorde van die land.

Die kompetisie het ten doel om in direkte en konstruktiewe mededinging ‘n debatstyl te volg wat nuut en vars op skolevlak is, dog terselfde tyd op universiteitsvlak en regoor die wêreld gebruik word. Die kompetisie is ‘n variasie van tradisionele Britse Parlementêre debat. Die een span verteenwoordig die Regering en die ander span die Opposisie.
Die spanne het geloot en een uur voorbereidingstyd gehad om elkeen ‘n 7 minuut toespraak te skryf oor aktuele onderwerpe. Elke spreker mag teenkant vrae ontvang van die opponerende span. Elke span het twee debatte gepraat en die top twee spanne van elke poel kon deurdring na die Beker-halfeindrondte. NHS het albei hul debatte gewen en in die halfeindrondte teen Afrikaans Hoër seunskool gekompeteer. Na ‘n vinnige en lewendige debat of skole sport en kultuur saam met akademie moet aanbied, eindig NHS algeheel in die vierde plek met die top debatskole Afrikaans Hoër Seuns in die eerste plek, Afrikaans Hoër Meisies in die tweede plek en Helpmekaar Kollege in die derde plek.