Nellies se balvaardighede dié beste!

Nellies se balvaardighede dié beste!

September 17, 2018
|

Hoërskool Nelspruit se balvaardighede is die beste! Dit is volgens die Nashua Rugby Skills Project in samewerking met ShadowBall na afloop van ‘n balvaardigheidskliniek wat vroeër die jaar by die skool aangebied is, waarna spelers die tegnieke wat hulle aangeleer het kon oefen en weer ses weke later getoets is. 

Rhino Rugby se o/14’s was Dinsdag 13 Maart gasheer vir die projek en Springbok-rugbyspeler Conrad Jantjes was ook op die dag hier. Letsakutfula Primary en Sehlulile Primary se o/13’s te same met NHS se o/14-rugbyspan is die geleentheid gegee om hul rugbyvernuf op NHS se B-veld op te skerp onder leiding van die ShadowBall-span.

Die skool se Rhino-rugbyfonds is nou R30 000 ryker te dankie aan Nashua en Shadow Ball. Die span van Nashua Lowveld, ShadowBall en voormalige Springbok- en Blitz Bokke-rugbyspeler Gcobani Bobo het Maandag 17 September die aankondiging tydens saalopening gemaak. Die o/14’s se WP van der Merwe, Bernard van Esch, Andreas Fouché, Wiehan Henning, Danny van Staden en Benand van der Merwe is as die spelers met die beste balvaardighede aangewys.

Die Nashua Rugby Skills Project poog om ‘n positiewe bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby te maak. Nashua is ook borg van die Currie Cup en neem hul betrokkenheid by rugby nog verder met dié projek. Dit fokus veral op balwerk op skole vlak met behulp van ShadowBall en skole van reg oor die land word besoek. 

ShadowBall is ‘n innoverende “rebound” rugbybal wat die speler toelaat om op sy eie te oefen, enige tyd en enige plek. Hierdie eiesoortige inisiatief kan akkuraatheid by die aangee van balle met tot soveel as 266% in vier weke verbeter. Hierdie bal is geskik om spelers van enige ouderdom se rugbyvaardighede te ontwikkel.

In die foto is Garry Crookes (ShadowBall), Carlo Hefer (ShadowBall), WP van der Merwe, Bernard van Esch, Andreas Fouché, Gcobani Bobo (voormalige Springbok), Wiehan Henning, Gerhard Holtzhausen (NHS-rugbyorganiseerder), Danny van Staden, Martin Barnard (Nashua Lowveld) en Benand van der Merwe.