Nellies presteer met debat en redenaars

Nellies presteer met debat en redenaars

June 9, 2017
|

Hoërskool Nelspruit se redenaars en debatspanne het onlangs tydens die ATKV se semifinale rondes van die redenaars by HTS Middelburg en die debat by Hoërskool Generaal Hertzog behoorlik amok gemaak.
Elf Nellies het Vrydag 9 Junie aan die onderskeie redenaars afdelings deelgeneem. Vier redenaars van NHS het na die gesogte nasionale finaal by ATKV-Goudini Spa naby Worcester wat op 11-12 Augustus plaasvind, deurgedring.

Wehan Viljoen in graad 11 het aan die onvoorbereide afdeling vir seniors deelgeneem en die afdeling gewen. Hy het ‘n onvoorbereide onderwerp ontvang waarna hy ’n beredeneerde toespraak in 120 minute moes skryf en voorberei. Vanjaar se onderwerp was of universiteitskwalifikasies belangrik is.

Gerhard van der Merwe, ook in graad 11, het in die senior voorbereide afdeling met sy toespraak, ’n Man se ego moet gestreel word, sy plek in die finaal verseker. Net drie uit die twintig deelnemers in dié afdeling het deurgedring na die finaal in Goudini.

In die onvoorbereide afdeling vir juniors het nuweling redenaar, Ernst Pieterse in graad 9, die ander gewys waar Dawid die wortels gegrawe het en die afdeling gewen. Milda van Dyk, ook in graad 9, het oortuigend tweede gekom. Die juniors moes die gehoor en beoordelaars oortuig of daar vir bedelaars geld gegee moet word of nie.

Sewe NHS-debatspanne het Saterdag 10 Junie aan die Noordwes, Limpopo, Mpumalanga uitdunronde by Genernaal Hertzog deelgeneem. Die senior spanne het baie goed presteer met Wehan Viljoen en Gerhard van die Merwe wat die kompetisie gewen het. Kees- Piet Barnhoorn en Theo van der Westhuizen het sesde in die ronde geëindig. Die onderwerp vir die eerste twee rondes was of gratis tersiêre onderwys gelykheid in Suid-Afrika sal bevorder. Daar was sestien spanne wat teen mekaar meegeding het uit onderskeidelik Rustenburg, Ellisras, Pietersburg, Potchefstroom, Lydenburg en Witbank. Slegs drie spanne dring deur na die finaal in Goudini op 12 Augustus.

In die junior afdeling het spanmaats Danté van der Westhuizen, Jean van der Merwe en Aniska Breedt hierdie ronde gewen.

 

Daar was 15 deelnemende spanne. NHS se Milda van Dyk, Mia Dentan en Jana Ingwersen het vyfde geëindig en spanmaats Ernst Pieterse, Leila Booysen en Rachelle Ressa het sewende geëindig. Die onderwerp vir die junior debat was of kulturele waardes ‘n deurslaggewende rol by die opstel van skoolreëls behoort te speel.
Die finaal in Goudini beloof ‘n luisteryke ervaring te wees waar skole oor die land meeding om podiumplekke.