Nellie-redenaars presteer nasionaal

Nellie-redenaars presteer nasionaal

October 16, 2017
|

Sewe redenaars van Hoërskool Nelspruit het tydens die Radikale Redenaars se nasionale finaal op 14 Oktober  ‘n hond uit ‘n bos gepraat. 

Gerhard van der Merwe in graad 11 wen twee nasionale eerste plekke vir sy tweetaligheidstoespraak en vir prosa lees.  Danté van der Westhuizen  in graad 9 ewenaar hierdie prestasie met sy twee nasionale eerste plekke vir sy Engelse Eksperimentele toespraak en vir prosa lees.  Die bekkige drieling boeties in graad 8, Wentzel, Franco en Janu Erasmus, wen ‘n nasionale tweede plek met hul uiters vermaaklike eksperimentele spanredenaars.  Hulle moes die knie buig voor Afrikaans Hoër Meisies Pretoria.

Teneil le Roux (graad 8) en Ané Davey (graad 9) het ook deelgeneem aan die finale ronde. 

Juffrou Magda van der Merwe, organiseerder van die redenaars en debat by NHS sê:  “Die Nellies het ‘n besonderse goeie redenaarsjaar gehad.  Vier leerders, Wehan Viljoen, Gerhard van der Merwe, Ernst Pieterse en Milda van Dyk, was ATKV Redenaars Mpumalanga-wenners en het aan die ATKV se nasionale ronde deelgeneem. Ernst Pieterse in graad 9 het nasionaal vierde geëindig in die kompetisie se junior onvoorbereide afdeling.  Ons sien daarna uit om volgende jaar nog hoër hoogtes te bereik.”