Nellie-atlete staan hul man teen die room van die noorde

Nellie-atlete staan hul man teen die room van die noorde

October 16, 2018
|

Kobus de Wet

Die jaarlikse prestige Elardus Erasmus Top 20-byeenkoms wat op Mookgophong (Limpopo) aangebied word, het vanjaar weer vir skitterprestasies gesorg – en die Nellies was deels daarvoor verantwoordelik. Met die klem op jonger ouderdomsgroepe, is ‘n Nelspruit-span gestuur van wie daar vir seker vorentoe nog baie gehoor gaan word.  Al bepaal ‘n Gideonsbende van net 20 atlete, nie die oorkoepelende krag van ‘n skool se volle atletiekspan nie, is daar genoeg rede om met opgewondenheid na die nuwe seisoen uit te sien! 

Wat spantotale en uiteindelike posisie betref, was dit die meisies wat met ‘n uitstekende sewende plek (uit 47 spanne) die seuns getroef het. Al moes hulle met ‘n 18e plek (uit 50 spanne) tevrede wees, het NHS se seuns egter groot belofte vir die nuwe seisoen getoon.

Met hulle totaal van 9425 ABSA-punte (beste 10 prestasies), het Nelspruit se meisies vir onder meer Garsfontein (9417), Monument (9376), Noordheuwel (9190) en Kemptonpark (9136) hakskene gewys. Twee laerskool-atlete wat die span vergesel het, Ashley Erasmus en Shenise de Clerk, het veral die tonge aan die praat gehad. Ashley behaal ‘n ongelooflike afstand van 36,44m in die skyfwerp, meisies 14 – ‘n volle 1134 ABSA-punte werd! Haar gewigstootafstand van 14,23m (1094 punte, eindig eerste) is eweneens ongehoord vir so ‘n jong atleet. Shenise het op ‘n hoogte van 1,50m oor die dwarslat geseil (903 punte, eindig 3e). Nog ‘n gesogte goue medalje is deur Inge Meyer (meisies 15) ingepalm. Inge wen die driesprong met ‘n baie goeie 10,35m (905 punte). Sy het ook stewig in die verspring (5,16m, ook 905) vertoon. Larise Combrink (meisies 14) het ook oudergewoonte uitgeblink en twee 900+ vertonings gelewer: 100m (12.71 sek., 955) en verspring (5,20m – 972).

Onder die seuns, het staatmaker Douw Kruger (s.16) sy aanslag op die nuwe seisoen momentum gegee, toe hy in skyfwerp (50,40m – 1002) en gewigstoot (16,77m – 1001) die magiese 1000 punte oortref het. Ook Devon Nell (seuns 17) lyk oorgehaal om spoedig op sy 14.67 sek. (110m hekkies, 837) en 54.85 sek. (400m hekkies, 892) te verbeter. Jongeling Luthando Mabuza (s.15) het ‘n puik 955 punte vir sy 2:03.67 in die 800m, verwerf. Sy 4:28.61 in die 1500m, toon ook groot belofte.

 

Ander blink vertonings wat gelewer is, sluit in:

 

Rhodé Nel (m.15): 100m – 13.09 sek.; ook 200m – 27.26 sek.

Jana Engelbrecht (m.15): 200m – 27.55 sek.

Lané Taljaard (m.15): hoogspring – 1,55m (905 punte)

Shana Scott (m.15): gewigstoot – 11,59m; ook skyfwerp – 30,01m

Nicci Viljoen (m.15): 300m hekkies – 47.11 sek.

Lallie Grobler (m.14): 300m hekkies – 50.21 sek.

Handré van der Merwe (s.14): 200m – 24.59 sek. (906); ook 300m hekkies – 42.58 sek.

Philip Vogel (s.14): hoogspring – 1,65m (910)

Magiel Brink (s.14): hoogspring – 1,65m (910)

Jade Swanepoel (s.15): hoogspring – 1,80m (952)

Quinn van Zyl (s.15): skyfwerp – 44,32m

Henco de Nyschen (s.16): 200m – 23.52 sek.; ook 400m – 51.02 sek.

Jaytee Boers (s.17): 400m – 50.44 sek.; ook 800m – 1:59.46 (900)

 

Baie sterkte aan ons atlete en afrigters vir die res van die voorseisoen se byeenkomste!