'n Nellie-uitruilstudent in Nederland

‘n Nellie-uitruilstudent in Nederland

January 30, 2018
|

Anja van Rooyen

NEDERLAND

 

Na vyftien jaar van lewe, het ek besef dat daar meer is.  My enigste vraag was, wat is meer? Met daardie vraag in my hart klim ek op ‘n vliegtuig en begin my ontdekkingsreis.

Ek lag  amper as ek nou so sit en terugdink aan my reis. Ek onthou nog hoe verskrik ek  daar in Dubai aangekom het en my pa gebel het sodat hy vir my kon sê waarheen om te gaan en hoe my hart angstig in my borskas geklop het toe ek op my volgende vlug moes klim. Die reis terug was baie rustig en alles het soos ‘n tweede natuur gekom.

Die ander kultuur en hulle manier van dinge doen,  was interessant. Nederlanse mense het geen takt nie. As jy nie ‘n dik vel het nie gaan jy sukkel. Hulle sê ‘n ding soos hy is en basta. Hulle is glad nie skynheilig nie en jy weet presies wat hulle van jou dink.

 Ek skud ook my kop as ek terugdink aan die eerste keer toe ek my trein gemis het. Ek was op pad Amersfoort toe om ander uitruilstudente te ontmoet toe die trein se deur net voor my gesig toegegaan en met ‘n verskriklike spoed weggetrek het sonder om eers aan my te dink. Dit sou my nogal gehelp het as ek geweet dat daar na 20 minute weer ‘n trein kom…

Ek ruk soos ek lag wanneer ek onthou hoe onseker ek was om orals heen met my fiets te ry. Ek was angsbevange dat ek die pad van die skool af na die huis toe sou vergeet. Ek onthou ook die eerste keer wat dit katte en honde gereën het. Ek was op pad huis toe, stoksielalleen, toe dit begin sous het, die wind het rond  gedans en my kappie wou nie opbly nie. Die snaaksste van alles is dat ek nie my baadjie toegerits het nie. Ja, ek het nie daaraan gedink dat ek miskien nie so nat sou wees as ek net my baadjie toerits nie. Gelukkig leer ons almal uit ons foute en ek het die tweede keer nie soos ‘n otter gelyk toe ek by die huis kom nie.

Dit is lekker wanneer jy jou pad kan vind in die verre vreemde sonder om op iemand anders staat te maak.

Skool is almal se gunstelling onderwerp. Moenie die storie glo dat Nederlands maklik is nie.  Nederlands is moeilik en om die skoolsisteem te verstaan is nog moeiliker.

Nederlands is ‘n Germaanse taal, alle woorde is manlik of vroulik en elke woord het vyf verskillende verbuigings.

Ek moes na ‘n paar maande ‘n taaleksamens skryf wat ek darem met lof geslaag het.

Ek was ook die Spaanse minister van finansies in ons skole EU-debat wat baie lekker en leersaam was. Ek het so goed gevaar dat hulle wou hê ek moet aanbly vir die nasionale rondes.

As jy moeg is vir te veel moeilike leerwerk, ‘n oorvloed van huiswerk en jy miskien nie die skerpste potlood in die pakkie is nie, moenie vrees nie, trek Nederland toe.

Die Nederlande skole werk volgens drie vlakke: MAVO, HAVO, VWO/ GYMNASIUM.  MAVO is nou vir diegene wat nie beplan om ‘n dokter of ‘n CA te word nie. Met hierdie vlak van akademie is jy klaar met skool op die ouderdom van 16 en dan moet jy na ‘n MBO toe gaan waar jy jou studies voort kan sit. In hierdie vlak kan jy meer praktiese goed doen soos ‘n sjef of ‘n bestuurder van ‘n restaurant of ‘n ontvangsdame.

HAVO is vir dié wat ook nie beplan om ‘n dokter of CA te word nie. Hierdie vlak van akademie hou jou gevange in die hoërskool vir vyf jaar en na jou skooljare gaan jy HBO toe. Met die vlak kan jy ‘n ontwerper of ‘n verpleegster word.

VWO is nou vir die breinbokse onder ons, die dokters en die CA’s. Hierdie vlak hou jou in die skool vir ses jaar. Na jou ses jaar kan jy ‘n gap-jaar neem of universiteit toe gaan. Gymnasium is net soos VWO, maar daar studeer jy Grieks en Latyn ook.

Skool was vir my meer soos ‘n kuierplek, aangesien ek omtrent 75% van die tyd geen idee gehad het wat aangegaan het nie. Daar het ek baie goeie vriende gemaak en sal vir seker nog lank in kontak bly met hulle.

 Aan die begin was skool nou nie die beste plek vir my nie. Die konstante gelaster en grappe was bietjie van ‘n aanpassing. Tog na ‘n ruk het ek geleer dat nie almal dieselfde geloof as jy is nie en dat jy nie net mense wat ongelowig is, kan ignoreer nie, hulle mag dalk net jou beste vriende word.

Ek het ook agtergekom dat aanpassing en aanvaarding saam loop.

Een van my gunsteling dele van my reis was, wel, om te reis. Die Nederlandse stede is vir my iets besonders, soms is daar ‘n walm wat rond dwaal, maar ‘n mens moet net die reuk ignoreer.  ‘n Mens sou nooit  kon raai dat ‘n stad soos Utrecht so ‘n groot stad is nie.  Die paaie wat van steen gemaak is en die ou geboue skep ‘n klein dorpie gevoel, maar moenie dat dit jou flous nie, ‘n mens kan daar verdwaal. Vra net vir Pieter Swart, ‘n Nellie-leerder wat nou in België studeer en ook ‘n goeie familievriend is. Piet het een naweek vir my kom kuier toe ons te hore gekom het van ‘n konsert wat in Utrecht gaan plaasvind. Ek en Piet het besluit dat dit ons eerste en laaste Jack Parrow-konsert was.

My medereisiger was ‘n uitruilstudent van Duitsland. Ons was omtrent oral saam en sy is seker die mens wat ek die beste leer ken het. Ons was saam in Amsterdam en ook saam Den Haag toe. Ek was ook ‘n naweek by haar in Klarenbeeck, ‘n klein dorpie naby Sutphen en Deventer.

Nog ‘n stad wat ek besoek het, is Rotterdam waar ek saam met my gasgesin vir ‘n naweek gebly het. Rotterdam is ‘n baie moderne stad in vergelyking met die res van Nederland, omdat die stad in die Tweede Wêreldoorlog omtrent plat geskiet is, behalwe vir die kerk in die middel. ‘n Paar ander stede wat ek besoek het is Amstelveen, Lelestap, Dronten en Apeldoorn.

Om te ontdek en om te waardeer is wonderlik vir ‘n mens se gees.

Ek het ‘n hele groep vriende wat almal saam uitruilstudente was wat versprei is oor die hele wêreld van Suid-Amerika tot Australië. Alles was beslis die moeite werd.

My gasgesin is mense vir wie ek baie waardering het, hulle het my gehelp in moeilike tye en my ondersteun soos ‘n regte familie sal. Hulle het hulle huis vir my oopgemaak en vir my gesorg asof ek hulle eie kind is. Ja, hulle het hulle foute gehad, maar ek sou nie ‘n  ander familie wou gehad het nie.

Dit is wonderlik om ‘n familie te kry wanneer jou eie bloed aan die anderkant van die oseaan is.