"So ‘n bek moet jêm kry"

“So ‘n bek moet jêm kry”

January 30, 2018
|

 

Op Vrydag 26 Januarie het agt debatspanne van Hoërskool Nelspruit  kragte teen die spanne van Afrikaanse Hoër Seunskool gemeet.  Die 24 sprekers het sake in vier onvoorbereide debatte uitgespook. 

Die gehoor was verstom deur die taalvaardigheid van die sprekers asook hul vermoë om in net vyf minute voorbereidingstyd ‘n toespraak van twee en ‘n half minute te skryf.  Elke spanlid het ‘n beurt gekry om hul konstruktiewe toespraak te lewer en daarna is die bekgeveg voorgesit in ‘n debatsgesprek van vyf minute. Sake wat in die verskillende debatte bespreek is, was onder andere of sosiale media ‘n goeie of slegte invloed op tieners se gedrag het, of skooldrag in 2018 uitgedien geraak het, of tegnologiese hulpmiddels die sleutel tot sukses in die onderwys is en of meisies en seuns in aparte klasse onderrig moet ontvang.   

“Dit is die tweede keer wat ons en Affies op die Vrydagaand voor die atletiek by NHS kultuur bevorder deur hierdie uiters geslaagde debatsaand wat ons beslis weer volgende jaar sal herhaal,” sê me. Magda van der Merwe, organiseerder van debat en redenaars by NHS.