Nuwe kultuurweek vir kultuurvrate

Nuwe kultuurweek vir kultuurvrate

September 5, 2016
|

 

1X3I5722

Hoërskool Nelspruit het ‘n nuwe en opwindende toevoeging tot die skool se sosiale kalender gemaak.    Die Kultuurweek@NHS het vanaf 29 Augustus tot 1 September gesorg vir hope vermaak en die Nellies se ongelooflike kreatiwiteit en talente is ten toon gestel.

Die week het afgeskop met die Drama-groep se toneelstuk “Eendag is daar” wat in die skoolsaal opgevoer is.  Dié toneelstuk was by die onlangse ATKV-Tienertoneelkompetisie in Ermelo opgevoer en het twee goue-, vyf silwer- en ses brons sertifikate verwerf.

Op 29 Augustus is ‘n heerlike Piekniek-onder-die-sterre aangebied. Die Nellies het op piekniekkomberse, onder liggies wat die bome versier het, heerlik ontspan en is meegevoer deur die verse en melodieë van hul maats.

Die helder kleure op die plaveisel by die skool se ingang het op 30 Augustus aandag getrek. Leerders van elke graad het bygedra tot die kleurvolle sypaadjie-kuns en die Laeveld se bekende illustreerder, Wouter de Witt alias Ghost, se bortkryt illustrasies het die leerders stomgeslaan en geïnspireer.

Op 1 September is ‘n spogaand in die skool se restaurant aangebied met optredes deur Shan-Rich Lemmer, René Bekker en Lusanti Brundyn wat almal as afdelingswenners by die onlangse Nelspruit Eisteddfod aangewys is.  Daar word ook gespog met topgehalte redenaarstoesprake asook opstelle wat in ‘n bundel opgeneem word. 

1X3I5521

NHS se koor, wat ‘n goue sertifikaat by die Nelspruit Eisteddfod losgesing het, sowel as verskeie drama en musiekitems het gesorg vir vermaak, terwyl die Nellies se kuns-en fotoklubuitstalling gaste beïndruk het.

1X3I5467