Joshua gaan die Nellies by die wêreldkampioenskappe in Nairobi verteenwoordig

Joshua gaan die Nellies by die wêreldkampioenskappe in Nairobi verteenwoordig

June 20, 2017
|

‘n Nellie-leerder en spiesgooier, Joshua Maass gaan binnekort aan die IAAF o/18 Wêreldkampioenskappe in Nairobi, Kenia deelneem.

Die kampioenskappe vind vanaf 12-16 Julie plaas en Joshua neem deel in die o/18-kategorie, wat die internasionale term, maar dieselfde, is as “seuns 17” in Suid-Afrika.

Hy is tans die dubbele ASA o/18-kampioen asook die SA Skole Kampioen in spiesgooi seuns 17. Sy persoonlike beste van 73,66m (tydens SA Skole kampioenskappe in Durban vroeër die jaar) plaas hom tans in die 12de posisie op die IAAF Wêreldranglys vir o/18 seuns spiesgooi.

Sy doelwit vir die wêreldkampioenskappe is om eerstens vir die finaal te kwalifiseer. Volgens DP Badenhorst, NHS se sportburo-bestuurder en afrigter sal Joshua sy tegniekdoelwitte nastreef: om te perfekte gooi te gooi. “Dit sal tot gevolg hê dat die afstand goed sal wees. Enige medalje is ‘n bonus, hy neem eerste teen homself deel en die teenstand wat hy van opponente kry gebruik hy om hom aan te spoor tot verder afstande.”

Volgens Badenhorst is Joshua die tweede atleet van NHS wat die voorreg het om Suid-Afrika by ‘n wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. Die vorige atleet is Frans Schutte wat ‘n brons medalje in gewigstoot seuns 17 by die IAAf Wêreld Jeugkampioenskappe in Bressanone Italië gewen het.