Hoërskool Nelspruit groet 'n legende

Hoërskool Nelspruit groet ‘n legende

May 3, 2017
|

Dit is nie aldag wat iemand kan sê dat hulle bykans ‘n halwe eeu by een plek werksaam was nie, en boonop sommer amper so lank daar gewerk het as wat daardie instansie oud is nie!

So het mnr. Gerrit Henning (70) en sy vrou Petra onlangs ‘n hoofstuk in hul lewe, maar ook in die geskiedenisboeke van NHS, afgesluit toe hulle vir oulaas by die hek van Hoërskool Nelspruit uitgery het om in hul nuutgeboude woning naby Port Elizabeth in te trek.

Mnr. Henning het vir 48 jaar by NHS diens gedoen en het vir talle generasies hier skoolgehou. Vir die eerste 40 jaar as rekeningkundeonderwyser, en die afgelope agt jaar as fasiliteitsbestuurder.

Hy het in 1969 vir die eerste keer by NHS aangesluit waar hy by atletiek en rugby ook betrokke was, en dan ook vir 20 jaar diens gedoen het by die seunskoshuis. Mnr. Henning en ‘n vriend van hom was dan ook stigterslede van die Nelspruit Marathonklub en is hy steeds net so aktief in sy vrye tyd. 

Die skool is in 1952 gestig, en was mnr. Henning dus vir die grootste deel van die skool se bestaan deel van die Nellie-familie, wat vanjaar 65 jaar oud word.

Daar is Dinsdag 25 April tydens ‘n gesellige byeenkoms van mnr. Henning afskeid geneem. “Die skool het groot waardering vir jou. Die laaste dekade het ons twee saamgewerk om die terrein op te skerp. Jy word nog met lewenslus en gesondheid geseën. Mag die brood wat jy op die water gewerp het, dubbel na jou toe terugkom. Jou vriende wens jou seën en berskerming toe. Jy was ‘n lojale vriend,” het dr. Louis Swanepoel, skoolfhoof, gesê.