Hoërskool Nelspruit bied spesiale winterskool aan vir leerders van SACTWU-lede

Hoërskool Nelspruit bied spesiale winterskool aan vir leerders van SACTWU-lede

August 23, 2018
|

Hoërskool Nelspruit het onlangs vir die tweede jaar in ‘n ry in samewerking met SACTWU (Southern African Clothing and Textile Workers’ Union) ‘n projek geloods om ‘n winterskool aan te bied vir SACTWU-lede se graad 12-kinders.

Die winterskool is  van 2-6 Julie 2018  in 6 vakke (soos deur SACTWU geidentifiseer) aangebied. Die vakke het ingesluit Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, English FAL, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe en Landbouwetenskappe.

Daar is ‘n totaal van sewe ervare graad 12-opvoeders ingespan om die klasse aan te bied.  Nege en dertig leerders het deel gevorm van die winterskool. Daar is daagliks van 08:30 tot 15:00 kliphard gewerk. Die leerders het darem ook ruskans gekry tussen klasse en hulle is vir die duur van die week middagete voorsien.

Volgens adjunkhoof mnr. Willie van der Merwe is die doel van die winterskool om afronding en inskerping te doen van reeds bekende kennis. “Daar is gefokus op eksamenvoorbereiding met die oog op die komende rekord- en eindeksamens,” sê hy.

“Deur hierdie inisiatief steek Hoërskool Nelspruit hande uit na die gemeenskap om veral op onderwysgebied ook ‘n verskil te maak in leerders (en die gemeenskap) se lewens.”

Hierdie is maar een van vele projekte waarmee Hoërskool Nelspruit bemoeienis maak met veral onderpresterende skole in ‘n poging om sulke skole in suksesverhale te help omskep.