Groot gees by Baby Rhino-pretloop

Groot gees by Baby Rhino-pretloop

February 23, 2017
|

Die eerste Baby Rhino-pretloop is Woensdag 22 Februarie by Mbombela Stadion aangebied en ten spyte van die aanhoudende reën het daar tog ‘n lekker gees geheers.

Die pretloop wat ingesluit het 1km, 4km of 8km, het bykans 400 inskrywings gesien. Volgens mnr. Gerhard Holtzhausen, organiseerder en rugbyspesialis by NHS het die reën die byeenkoms effens gekelder, maar is daar die grootste waardering vir dié wat wel kom hardloop het.

Mnr. Gerhard Holtzhauzen, organiseerder en rugbyspesialis by NHS.

Oor die 200 deelnemers het vir die 4km ingeskryf en almal wat die wedloop voltooi het, het medaljes gekry.

Daar word beoog om die pretloop ‘n jaarlikse instelling te maak die week na afloop van die Interhoër en intussen word daar beplan aan ‘n hindernis-wedloop op die skoolterrein asook ‘n trail run net buite Nelspruit op ‘n plaas op die Barberton-pad. Hoewel die datums nog nie bevestig is nie, kan die publiek solank ‘n knoop in die oor maak daarvoor.

Baie dankie aan al die borge wat die dag moontlik gemaak het.

 

• Hoekom die ‘Baby Rhino’-wedloop?

Die eerste rugbyspan is al ‘n geruime tyd bekend as die Wit Masjien na aanleiding van hul wit rugbytruie. Die ander spanne het hul name in 2006 gekry toe die o/14’s daardie jaar vir die eerste keer die Beeld Trofee gewen het teen Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria. Hulle het toe as die Baby Rhinos bekendgeword.

Die eerste rugbyspan het met die tyd die White Rhinos geword en so het die sport as Rhino Rugby begin bekendstaan:

• 0/14’s – Baby Rhinos

• 0/15’s – Black Rhinos (hulle speel in swart truie)

• 0/16’s – Baby White Rhinos (omdat hul dan in die volgende jaar by die White Rhinos kan speel)

• 1ste span – White Rhinos