Atletiek: Streeksbyeenkoms

Atletiek: Streeksbyeenkoms

February 29, 2016
|

NHS se atletieksterre skitter by streeksbyeenkoms

 

AZ2A0321edit

Die finale Ehlanzeni-streeksbyeenkoms (ten einde die span na die Mpumalanga-kampioenskappe saam te stel), het verlede Vrydag op Barberton plaasgevind. Net die atlete wat hul weg oopsien om aan vanjaar se nasionale kampioenskappe te gaan deelneem, het vir hierdie byeenkoms ingeskryf. Desondanks het ‘n hele paar van NHS se top-atlete die geleentheid gebruik om met blink vertonings vorendag te kom.

 

Naas Marais (seuns 17) het reeds in 2015 (as onder 16-atleet) aan die SA’s vir seuns 17 deelgeneem, en gewys dat daardie ervaring goud werd was. Nadat Naas verlede week die Laeveld-inter (skyfwerp, s.17) met ‘n goeie gooi van 48,60m gewen het, het hy op Barberton die krane behoorlik oopgedraai. Sy wenafstand van 55,75m is gewis eindronde op SA’s-materiaal en raak-raak aan die soort afstande wat nasionale medaljes verwerf. Die uiters strawwe ASA-tabel is gebruik, maar Naas het nogtans ‘n pragtige 907 punte vir sy reuse gooi verdien. Naas was ook in die gewigstoot in ‘n onkeerbare bui, toe hy sy 14,75m van die vorige naweek, met ‘n uitstekende 15,55m opgevolg het (767 punte).

 

Onder die meisies, het Ilke Joubert (m.17) met goeie pogings van 12,83m (gewigstoot, 896 punte) en 38,24m (spiesgooi, 800 punte) uitgeblink. Haar skyfwerp-afstand van 29,06m was 740 punte werd. Marne van Aarde (nog onder 16) was tweede in die gewigstoot vir meisies 17, met ‘n goeie 11,51m (842 punte).

 

Twee items waarin NHS se atlete skoonskip gemaak het, was die skyfwerp vir seuns 15, asook spiesgooi (ook seuns 15). In skyfwerp, het Chyle van Zyl (50,46m – 798 punte) met die louere weggestap, gevolg deur spanmaats Jacques Marais (nog onder 14) met 42,29m, en Xander Rutherford (ook nog in gr.8) met sy 40,60m. In spiesgooi, was Jaco Pretorius eerste (45,43m), gevolg deur Chyle (44,88m) en Douw Kruger (nog ‘n 14-jarige) met ‘n gooi van 39,19m.

 

Leon Pienaar (seuns 19) het die magiese 50 sek. vir die 400m oortref, toe hy die item in 49.98 sek. voltooi het (759 punte).

 

Van die ander mooi vertonings deur NHS-atlete, sluit in :

 

Jaytee Boers (s.15): driesprong – 11,78m

Chyle van Zyl (s.15): gewigstoot – 14,84m

Xander Rutherford (s.14): gewigstoot s.15 – 12,92m

Henco Pieters (s.17): skyfwerp – 47,00m

Stephan vd Bank (s.17): spiesgooi – 56,82m

Werner Bouwer (s.19): spiesgooi – 60,29m

De Villiers Basson (s.17): 800m – 2:01.39

Linmari Potgieter (m.16): hoogspring m.17 – 1,50m

Megan Nel (m.15): verspring – 4,93m

Marne van Aarde (m.16): skyfwerp m.17 – 29,50m, ook spiesgooi – 32,91m

Jessica Berry (m.15): 1500m – 4:57.62

Leonine Gildenhuys (m.14): 1500m m.15 – 5:12.44

Mia Erasmus (m.17): 1500m – 5:05.67

Thembi Cossa (m.16): 800m m.17 – 2:28.25

 

Baie sterkte aan die Nellies wat Saterdag op Secunda aan die provinsiale byeenkoms gaan deelneem !