ATLETIEK: Naboomspruit TOP 30

ATLETIEK: Naboomspruit TOP 30

October 24, 2016
|

NHS-atletiek bal vuis op Potchefstroom

naas-marais-ruan-labuschagne-megan-nel

 

Soos dit ook verlede week op Mookgophong die geval was, het NHS se top-atlete, hul beste vertoning nog tydens die jaarlikse PUK Top 30 – byeenkoms (verlede Saterdag op Potchefstroom) gelewer. Die seuns het ‘n puik 8e plek (uit 56 deelnemende spanne) behaal, terwyl die meisies se 17e plek ook ‘n mooi prestasie was, gesien in die lig dat daar 50 spanne vir hierdie afdeling ingeskryf het. Prestige College was die gesamentlike wenners (seuns en meisies saam), met NHS in die 13e plek.

 

Nelspruit se seuns (26133 ABSA-punte) het onder andere met die volgende bekende atletiekskole afgereken:  Vorentoe (25672), Montana (25242), Potch Gimnasium (25040), Zwartkop (24726), Noordheuwel (24635), Klerksdorp (24419) en Waterkloof (21950). Die meisies se 21392 punte, was goed genoeg om ondere af te reken met Lichtenburg (21310), Eldoraigne (20378), Wesvalia (20085), Secunda (19880), Overkruin (18786), Waterkloof (17591) en Marais Viljoen (17463).

 

Die nou reeds bekende Marais-broers, Naas (seuns 17) en Jacques (seuns 14) was weer eens aan die spits van ‘n hele rits uithaler-vertonings deur die Laevelders. Beide van hulle, het die maksimum van 1200 ABSA-punte verwerf, en beide in skyfwerp. Naas se 62,12m het sy eie rekord van 61,58m oortref, en plaas hom in die nr.4 – posisie op die IAAF se internasionale ranglys ! Slegs Cyprus se Giorgos Koniarakis (63,96m), die VSA se Turner Washington (63,00m) en die Hongaar, Ferenc Aranyi (62,36m) het vanjaar die 1,5kg-skyf verder deur die lug laat klief. In ‘n kompetisie waar 18 atlete in aksie was, kon die atleet wat tweede was (Potch Gim. se Roubert Rosseau) slegs 53,99m haal – wat Naas se oorheersing duidelik onderstreep. Kleinboet Jacques se 49,98m (s.14) was ook die volle 1200 punte werd. Slegs Klerksdorp se Juan Oosthuizen (50,66m) kon verder as Jacques gooi. Jacques se mede-Nellie, Douw Kruger, het self die oog gevang toe hy sy persoonlike beste na ‘n pragtige 45,60m opgestoot het (1075 punte). Twee NHS-spiesgooiers het ook die 1000 punte-perk oorskry: Joshua Maass (s.16, 65,23m – 1059 punte) en Werner Bouwer (s.19 – 71,80m – 1057 punte). Jacques se verspring-afstand van 5,89m het ook ruim tot die spantotaal bygedra, toe hy 1062 punte daarmee verdien het. Drie seuns het meer as 900 punte verwerf: Tertius Mentz (800m s.16 , 1:59.40 – 969), Jaytee Boers (800m s.15 , 2:03.65 – 963) en Ben Strydom (200m s.16, 22.80 sek. – 963).

 

Onder die meisies was die 14-jarige Suzaan Nel weer die groot puntemaker. Sy nael die 100m (m.14) in 12.79 sek. vir 937 punte, en haal ‘n afstand van 4,87m in verspring, wat aan haar 869 punte besorg het. Sy is veral goed ondersteun deur Carli Killian (m.15) wat met haar 858 punte in hoogspring  (1,50m) en 845 punte in verspring (4,95m) baie goed gevaar het. Nog twee hoogspringers het meer as 800 punte bygedra, nl. Linmari Potgieter (m.16, 1,55m – 853) en Luka Swanepoel (m.14, 1,45m – 853).

 

Drie Nellies wat beslis baie breed na die byeenkoms geglimlag het, is Ruan Labuschagne, Megan Nel en Andreas van Heerden. Hulle het hulself oortref en sekerlik verbaas, deur ook met bestaande Nellie-rekords klaar te speel. Ruan voltooi die moordende 400m hekkies vir seuns 16, in ‘n skitterende 55.81 sek., wat Juandre van Duyker se 56.33 sek. met gemak oortref het. Daarmee spog Ruan dan ook met ‘n stewige 890 ABSA-punte. Megan (m.15) spring al die hele jaar konstant in die omgewing van 10m, en het met haar sprong van 10,48m, Claire Sparrow se 10,45m uit die rekordboeke verwyder. Sy het verder nog 775 punte vir haar span ingeoes, toe sy 4,91m ver in die verspringput geland het. Andreas het in die 3000m-wedloop vir seuns 15, Charlie Naude se bestaande 10:53.23 met meer as ‘n minuut, na ‘n pragtige 9:44.92 verbeter. Daar was vir die eerste keer ook ‘n 3000m vir dogters 14, waar Leonine Gildenhuys se 12:36.44 dan as ‘n Nellie-rekord aangeteken word. 

 

Die volgende seuns kon na afloop van die byeenkoms, verder daarmee spog dat hulle meer as 800 ABSA-punte verdien het:

 

Attie Smit (s.14): 800m – 2:13.65 (827)

Jaytee Boers (s.15): 400m – 53.14 sek. (851)

Ewald Putter (s.15): hoogspring – 1,70m (864)

Andreas van Heerden (s.15): 3000m – 9:44.92 (811)

Joshua Maass (s.16): verspring – 6,09m (802)

Tertius Mentz (s.16): 400m – 52.17 sek. (831)

Wian Otto (s.16): gewigstoot – 14,26m (812)

Rainer Spruyt (s.16): 800m – 2:03.65 (871)

Ruben Buitendag (s.17): 200m – 23.10 sek. (833)

Naas Marais (s.17): gewigstoot – 15,86m (868)

Douw Kruger (s.14): gewigstoot – 13,31m (806)

 

Van die ander goeie vertonings, sluit in:

 

Nicola Cronje (m.15): 400m – 61.96 sek.

Nerina Visser (m.17): 400m hekkies – 69.27 sek.

Conrad Grobbelaar (s.14): 800m – 2:16.85

Mila de Villiers (m.14): 1500m – 5:17.94

Leonine Gildenhuys (m.14): 3000m – 12:36.44

Attie Smit (s.14): 1500m – 4:49.09

Ivan Potgieter (s.15): 110m hekkies – 15.39 sek.

Michelle Bouwer (m.15): spiesgooi – 30,24m

Andreas van Heerden (s.15): 1500m – 4:39.59

Ruan Labuschagne (s.16): 110m hekkies – 15.74 sek.

Charlie Naude (s.16): 1500m – 4:37.48, ook 3000m – 9:51.48

Rainer Spruyt (s.16): 1500m – 4:31.16

Tayla Kotzee (m.14): 90m hekkies – 15.31 sek., ook 300m hekkies – 50.70 sek.

Marcel Saayman (s.14): 100m – 12.67 sek.

Angelique Nel (m.15): 3000m – 12:05.31

Mathys Wessels (s.15): 1500m – 4:

 

 

Eerskomende Saterdag vind die jaarlikse JJJ-byeenkoms op Witrivier plaas. Dit sal die laaste geleentheid wees waar die atlete die 2016-seisoen  (en hul huidige ouderdomsgroepe) vaarwel kan toeroep. Met al die skitterblink vertonings van die afgelope paar weke in gedagte, behoort hierdie byeenkoms vir kookwater-atletiek te sorg. Sterkte aan al die atlete en hul afrigters !