Atletiek: Mpumalanga uitdunne

Atletiek: Mpumalanga uitdunne

March 3, 2016
|

NHS-atlete blink uit op Secunda

 

Die jaarlikse Mpumalanga-atletiekkampioenskappe wat op Saterdag 5 Maart te Secunda plaasgevind het, het ongetwyfeld getoon dat ons provinsie vanjaar sy stem by die SA-skole en ASA juniorkampioenskappe, hard en duidelik gaan laat hoor. Die standaard was weer baie hoog – en NHS se groepie vasbyters wat vir vanjaar se byeenkoms ingeskryf het, glimlag breed nadat hulle met ‘n paar prag-vertonings vir hulself ‘n plek in die Mpumalanga-spanne verwerf het.

 

In totaal het die Nellies 18 medaljes gewen, waarvan 7 goud, 6 silwer en 5 brons is. Naas Marais (seuns 17) beleef ‘n uitstekende seisoen ! Hy het reeds vanjaar 55m in skyfwerp behaal, en Saterdag se 50,88m ((871 ASA-punte) maak hom vanjaar se Mpumalanga-kampioen. Dit was egter in gewigstoot, waar Naas die wenkbroue laat lig het. Hy het vir die eerste keer die 1,5kg-gewig verder as 16m laat grondvat (16,16m – 860 punte) en daarmee sy tweede titel ingepalm. Werner Bouwer (s.19) se 64,87m (spiesgooi) het sy bestendigheid onderstreep, en gewys dat hy dit verdien om vanjaar se provinsiale kampioen te wees. Werner se ASA-punt was 898, die beste deur ‘n Ehlanzeni-seun vir die dag. Chyle van Zyl, beter bekend vir sy skyfwerp- en gewigstoot-prestasies, het hierdie keer met ‘n groot gooi in spiesgooi losgetrek (55,65m) en ook goud verower. In ‘n naelbytstryd tot deur die wenpaal, slaag DeVilliers Basson daarin om die titel in die 800m (s.17) in ‘n persoonlike beste tyd van 1:57.57 (824 punte) net-net voor die neus van Nkandlala se Francois Hattingh (1:57.59) weg te raap. Nicola Cronje (m.15) kan ook baie trots op haar goue tweekuns wees. Sy wen die 400m (59.56 sek. – 848 punte) , asook die 800m (2:21.00 – 826 punte).

 

Nog ‘n atleet wie se naam sekerlik spesiale vermelding verdien, is Leon Pienaar (s.19). Nadat hy by ‘n paar geleenthede vanjaar, die 400m in net minder as 50 sek. voltooi het, breek Leon Saterdag deur die grens en teken ‘n uitstekende 48.84 sek. aan (870 punte). Hy het tweede klaargemaak, en die prestasie ook in die 800m (1:57.00) herhaal.

 

Die volgende ander prestasies, het ook vir silwermedaljes (tweedeplekke) gesorg:

 

Chyle van Zyl (s.15): skyfwerp – 50,91m (807)

Joshua Maass (s.17): spiesgooi – 54,75m

Thembi Cossa (m.17): 800m – 2:26.59

Megan Nel (m.15): driesprong – 10,35m

 

NHS se bronsmedalje-oes lyk soos volg:

 

De Villiers Basson (s.17): 2000m hindernis – 7:15.34

Chyle van Zyl (s.15): gewigstoot – 15,09m

Henco Pieters (s.17): skyfwerp – 45,98m

Mia Erasmus (m.17): 1500m – 5:07.54

Ilke Joubert (m.17): spiesgooi – 36,33m

 

Daar moet beslis ook melding gemaak word van Marne van Aarde (m.16, moes m.17 deelneem) wat ‘n mooi afstand van 12,46m in gewigstoot behaal het (868 punte). Sy was net 2cm agter spanmaat Ilke Joubert , wat self ‘n goeie 869 punte met haar poging van 12,48m verdien het.

 

Na die byeenkoms is voorlopige spanne gekies wat binnekort aan die SA-skole en ASA-junior byeenkomste sal deelneem. Die volgende Nellies verwerf dan hul Mpumalanga-kleure vir atletiek:

 

Seuns:   De Villiers Basson, Naas Marais, Chyle van Zyl, Tertius Mentz, Leon Pienaar, Stefan Smit, Joshua Maass, Werner Bouwer en Henco Pieters.

Meisies: Nicola Cronje, Megan Nel, Mia Erasmus, Ilke Joubert, Jessica Berry en Marne van Aarde.

 

Baie geluk aan hierdie atlete en hul afrigters !