TOP 10 byeenkoms

TOP 10 byeenkoms

February 19, 2016
|

NHS – atlete lewer vuurwarm vertonings by Top 10 – byeenkoms in Pretoria.

 

Twaalf van Nellies se top-atlete het Woensdag , 17 Februarie die reuse taak gehad om in die bekende Pilditch-stadion, teen soortgelyke spanne van meer as 35 skole vanuit al die noordelike provinsies van ons land, mee te ding. Dit was voorwaar ‘n SA’s in die kleine, met prestasies bokant 1000 ABSA-punte aan die orde van die dag. Om sake verder uitdagend te maak, was die weer broeiend warm en bedompig, met nat toestande wat later tydens die byeenkoms , dinge nog moeiliker gemaak het. Nogtans het die Nellies vasgebyt en hul man deeglik gestaan.

Die naam van Ilke Joubert (m.17) staan sekerlik bo-aan die lys van pragtige NHS-prestasies. In uitgelese geselskap, wen sy die spiesgooi met ‘n uitstekende 39,79m – die verste wat ‘n meisie van NHS nog ooit die spies deur die lug laat klief het ! Ilke staan op die drumpel van nog ‘n mylpaal: om die eerste Nellie-meisie te word om die 40m-merk te oorskry. Sy het ook in gewigstoot uitgeblink, toe sy met ‘n goeie 12,91m ‘n derdeplek (uit 18 deelnemers) behaal het. Die hoogste ABSA-punt deur ‘n meisie uit die Laeveld, is egter deur Nicola Cronje (m.15) behaal, toe sy die 800m vir die eerste keer onder 2:20.00 voltooi het. Haar 2:19.11 was ‘n volle 919 punte, asook ‘n baie goeie derdeplek, werd.

‘n Hele paar 900+ punte is deur die seuns ingesamel. Jacques Marais (s.14) se sprong van 5,50m (verspring) het aan hom 938 punte besorg, terwyl Stefan Smit (s.16) weer sy ontsaglike potensiaal onderstreep het, deur skitterende vertonings in die spiesgooi (59,56m – 932 punte) en skyfwerp (46,96m – 911 punte) te lewer. Hy was tweede in spiesgooi, en derde in skyfwerp. Chyle van Zyl (s.15) het weer verder as 15m in gewigstoot gehaal (15,09m – 890 punte), met Werner Bouwer (s.19) wat oudergewoonte sy stem dik gemaak het, toe hy die 800g-spies op ‘n mooi afstand van 62,67m (878 punte) laat pen het.

Marne van Aarde (m.16) het haar by Ilke Joubert aangesluit as een van twee NHS-meisies wat vanjaar die 3kg-gewig verder as 12m kon stoot. Haar persoonlike beste van 12,01m, het 848 punte tot die spantotaal bygedra. Jessica Berry (m.15) kan ook die kop hoog lig, nadat sy die 1500m in onder 5min. voltooi het (4:52.20). Vir hierdie baie goeie binnelandse tyd, het Jessica 889 punte verwerf.

Van die ander uitstaande vertonings, sluit in:

Joshua Maass (s.16): verspring – 6,18m , ook spiesgooi – 56,53m (beide derdeplekke)
Chyle van Zyl  (s.15): skyfwerp – 43,72m
Suzaan Nel (m.14): verspring – 4,66m, ook 100m – 13.34 sek.
Nicola Cronje (m.15): 400m – 60.88 sek.
Chantel Olivier (m.14): hoogspring – 1,45m

Met sulke uithaler-prestasies, kan ons top-atlete die uiters strawwe Super-byeenkoms (Dinsdag 1 Maart, weer op ‘n tartanbaan) met selfvertroue tegemoet gaan.